Kortfilmprojek – opkomende filmmakers: Noise & Neighbours

Noise & Neighbours: ’n Kragtige boodskap deur musiek in die afwesigheid van dialoog

As ’n mens die musiek weglaat, kan Liza Ludick se nuwe kortfilm, Noise & Neighbours, eintlik as ’n stilprent geklassifiseer word. Tog, met treffende animasie en die hartroerende note van komponis Wesley West se klavier, spreek die stilte in hierdie film waarlik boekdele.

Die veteraan-akteur Tobie Cronjé en nuweling Olwethu Kunene speel die rolle van Helmut en Bolelo, bure wat mekaar nie kan verdra nie, maar wat deur die universele taal van musiek unieke rolle vir mekaar begin vervul.

Regisseur Liza Ludick vertel meer oor Noise & Neighbours.

Die film raak aan die tema van seisoene en verandering, of dit nou die letterlike wisseling in seisoene is, of die verandering van seisoene in jou lewe. Hoekom was dit so belangrik om hierdie tema te laat uitstaan?

Die siklus van lewe en dood is ’n tema wat mense al van die oertyd af fassineer. Soos die Griekse mites van Demeter en Persephone die seisoene gebruik om lewe en dood te verteenwoordig, verteenwoordig die seisoene in Noise & Neighbours hierdie siklus van verandering. Na my mening is die dood en lewe baie na aan mekaar. Ons kom van, en gaan na dieselfde ‘plek’ toe, en elkeen van ons ervaar beide. Dit is so normaal soos seisoene wat verander.

Die stilte in die film is treffend en vertel jou baie sonder dat daar enige klank behalwe dié van die klavier is. Hoekom het jy besluit om hierdie film sonder dialoog te doen, en dink jy daar is ruimte in die mark vir meer stilprente?

Menslike ervaring is universeel. Ek wou ’n film maak wat deur enigiemand verstaan kan word, ongeag taal of kultuur. Ek voel dat dialoog somtyds oormatig gebruik word. Stilte kan die kern van ’n boodskap op ’n universele manier oordra. Daarom voel ek sterk daaroor dat daar ’n wel plek in die mark vir films sonder dialoog is.

Wat was vir jou die uitdagendste om ’n fliek sonder teks te skiet?

Die musiek vervang dialoog in Noise & Neighbours. Dus was dit noodsaaklik om met die perfekte komponis, in hierdie geval Wesley West, te werk. Hy het reeds die musiek vir die film gekomponeer voordat ons begin skiet het. Tydens produksie het die akteurs hul eie geure na die storie gebring, daarom moes Wesley ná die tyd die musiek aanpas om dié nuwe nuanses te komplementeer. Elke komposisie moes die karakters se emosies kommunikeer. Natuurlik was dit ook baie belangrik om uitstekende akteurs te gebruik, asook om die kamera as ’n emosionele verfkwas in te span.

Wat is veral belangrik om van die hoofkarakters, Helmut (Tobie Cronjé) en Bolelo (Olwethu Kuene), te weet?

Bolelo leer vir Helmut hoe om weer te lewe. Helmut leer vir Bolelo hoe om die lewe se uitdagings in die gesig te staar. Hulle is in baie opsigte mekaar se teenoorgesteldes. Die band wat hulle vorm verteenwoordig my geloof dat dit altyd moontlik is om iets in gemeen te vind met ’n ander mens.

Hoe het julle van virtuele produksietegnieke gebruik gemaak?

Ons het met ’n LED-volume by Atlantic Studios in Kaapstad geskiet. Hulle het ons gekontak nadat hulle die draaiboek gelees het.

Met die volume (’n stelsel van gekoppelde gesofistikeerde LED-panele wat gebruik word om videomateriaal of 3D-inhoud te vertoon) kon ek tydens pre-produksie presies sien hoe elke skoot sou lyk. Dit het baie tyd gespaar in terme van ons kartonstelle, want die geniale mense by Breadbin Productions het vooraf die digitale stelle gebou.

Ons kunsregisseur, Jaclyn Maistry, het elke hoekie en draaitjie saam met hulle ontwerp, dus het stelveranderinge op die dag slegs die druk van ’n paar knoppies geverg.

Hoe dink jy dra die animasie by tot ’n genotvolle kykervaring?

Van die begin af was ek oortuig dat dié wêreld uit karton geskep moes word. Die karton is ’n visuele metafoor vir die tydelike aard van aardse dinge. Die enigste werklikheid in die mens se lewe is die emosionele bande wat ons met ander vorm. Die res is vergaanbare gemors. Die virtuele produksietegniek help om vir die kartonwêreld lewe te gee, en dra by tot die surrealistiese gevoel wat die film skep.

Tobie Cronjé was nog altyd ’n uitstekende karakterakteur. Het jy hom vanuit die staanspoor in gedagte gehad vir Helmut se karakter?

Hiervoor moet ek die krediet aan my vervaardiger, Jaco van Bosch, toeskryf. Toe ek vir hom ’n prent van Eustice uit die animasiereeks Courage the Cowardly Dog gewys het, het hy dadelik geweet dat Tobie Cronjé die perfekte Helmut sou maak.